English: The Films and Publications Act 65 of 1996 (South African Government 1996) provides the framework within which films and publications can be controlled in South Africa, including the imposition of age and content advisories for films and television programs (f-ACAs) by the Film and Publication Board (FPB). However, no similar advice exists for books (b-ACAs), although this is the practice in the United States of America, for example.
The aim of this investigation was to determine how Afrikaans speakers feel about b-ACAs for books for children. Three methods were used in the investigation, namely (1) an interview with a publication control and legal expert; (2) an online focus group (made up of various individuals from the publishing value chain, such as authors, a publisher, a purchasing manager, and so on); and (3) an online questionnaire.
The participants of the focus group were of the conviction that b-ACAs are not really meaningful unless they relate to the intended reader’s reading ability. They speculated that end-users (i.e. the intended readers/buyers) might find them potentially useful though.
This was confirmed by the results of an online questionnaire, which was aimed at end-users only. The questionnaire data was statistically analysed and interpreted using the standard Kruskal-Wallis test. It transpired that end-users believe that b-ACAs could potentially be valuable and beneficial; this was especially true for participants with children (who also made up the majority of the participants). The participants also indicated that b-ACAs should preferably be displayed visibly on the front or back cover of the book. They further indicated that these b-ACAs should be determined mainly by authors and publishers, since they have already written and selected the books with a specific target audience and genre in mind. However, the onus ultimately still rests with parents to decide to what extent they want to take these advices into account in their educational task.
Afrikaans: Die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996 (Suid-Afrikaanse Regering 1996), verskaf die raamwerk waarbinne films en publikasies in Suid-Afrika beheer kan word. Dit sluit die oplegging van ouderdoms- en inhoudsadvies vir films en televisieprogramme (f-OIA’s) deur die Rolprent-en-Publikasieraad (RPR) in. Daar bestaan egter geen soortgelyke advies vir boeke (b-OIA’s) nie, hoewel dit byvoorbeeld die gebruik in die Verenigde State van Amerika is.
Die oogmerk van hierdie ondersoek is om vas te stel wat Afrikaanssprekendes se gevoel oor b-OIA’s vir boeke vir kinders is. Daar word van drie metodes gebruik gemaak in die ondersoek, naamlik (1) ’n onderhoud met ’n publikasiebeheer- en regskenner; (2) ’n aanlyn fokusgroep (wat uit verskeie individue uit die publikasiewaardeketting saamgestel is, waaronder skrywers, ’n uitgewer en ’n aankoopbestuurder); en (3) ’n aanlyn vraelys.
Die rolspelers van die publikasiewaardeketting is van mening dat b-OIA’s nie regtig sinvol is nie, tensy dit met die veronderstelde leser se leesvermoë verbandhou, maar dat die eindgebruikers (d.i. die veronderstelde lesers) dit potensieel nuttig sou vind. Dit is deur die resultate van die aanlyn vraelys, wat slegs op eindgebruikers gemik is, bevestig deur die vraelysdata statisties met behulp van die standaard-Kruskal-Wallis-toets te ontleed. Hierdie eindgebruikers, waarvan diegene met kinders die meerderheid uitmaak en ook as die grootste demografiese bepaler dien, meen dat b-OIA’s moontlik waardevol en voordelig kan wees en dui aan dat dit verkieslik sigbaar op die voor- of agterblad van die boek aangebring moet word. Hulle dui verder aan dat hierdie b-OIA’s hoofsaaklik deur skrywers en uitgewers bepaal moet word, aangesien hulle reeds die boeke geskryf en gekeur het met onder meer ʼn bepaalde teikengehoor en genre in gedagte. Die onus rus egter uiteindelik steeds by ouers om te besluit tot watter mate hulle hierdie adviese in hul opvoedkundige taak in ag wil neem.